Dag 8

 Vervulling in die dans

 Psalm 16:11

U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.

 As jy praat met mense wat baie lief is vir dans, hoor jy dikwels die woorde liefde, passie en vervulling.  Hulle het iets gevind wat die vakuum in hulle lewe vul.  

God het ons gemaak met hierdie vakuum wat soek na vervulling.  Daarom het ons die natuurlike geneigdheid en soeke na die dinge wat vir ons vervulling en vreugde bring.  Sommige van hierdie dinge – soos dans – is aanvaarbaar en ander – soos dwelms – is nie aanvaarbaar nie.  Ek weet nie wat jy doen om vervulling in hierdie lewe te beleef nie, die waarheid is egter dat hierdie tipe vervulling net tydelik is.

 Daar is net een dans wat permanente vervulling in ons lewens sal bring.  Dis wanneer ons besluit om ons Vader se hand te neem en in ‘n intieme verhouding met Hom te staan.  Psalm 16 sê vir ons dat by God is daar oorvloediglike blydskap.  Hierdie blydskap is nie gegrond op omstandighede nie, maar is ‘n diep gewortelde vervulling wat niks en niemand van jou kan wegskeur nie. 

 Hierdie vervulling bring nie net vreugde nie, maar ‘n vrede wat nie altyd sin maak nie.  Filippense 4:7 sê dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus.  Dis ‘n vrede wat nie met jou intellek verstaan kan word nie.  Dis ‘n vrede wat jy kan beleef al gaan jy deur die grootste storm in jou lewe.  As jy hierdie punt in jou lewe bereik het, het jy geleer om saam met jou Vader te dans wanneer die lewe se ritme stadig klop, wanneer die ritme te vinnig beweeg en selfs wanneer jy nie kan sin maak van die ritme nie.  Jy weet net jou Vader is naby jou en Hy lei jou deur elke situasie – jy sal veilig aan die anderkant uitkom.

 Dawid het iets beleef van hierdie dans met God wat vervulling bring.  As jy smag na vervulling in jou verhouding met jou Skepper kan jy bid soos Dawid gebid het in Psalm 63: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.  Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind.   U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.  Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u Naam te prys…  As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek:  U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.  Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.”

 Gebed

Vader, dankie vir die vervulling wat ek kan beleef in my verhouding met U.  Amen.