Dag 9
Wanneer jy swak voel
Jesaja 46:4b
Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.
Die Psalm digter sê in Psalm 103:14 dat God weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Ander vertalings sê dat Hy weet dat ons swak is.
Almal van ons beleef tye van swakheid, of dit nou is oor die gejaagdheid van die lewe of oor moeilike omstandighede, almal raak soms so moeg dat jy nie genoeg krag oor het om aan te hou loop nie.
Dis interessant om te weet dat God ons so gemaak het. Hy het ons gemaak om soms op ‘n plek te kom waar ons sê, “ek kan nie meer nie!” Die vraag bly nou, hoekom laat God toe dat ons op hierdie plek in ons lewens kom waar ons voel ons kan nie meer self die pad stap nie?
Die antwoord is eintlik baie eenvoudig en ons vind dit weereens in God se handleiding, Sy Woord. 2 Korinthiers 12:9 sê Jesus dat Sy genade vir ons genoeg is, Sy krag kom tot volle werking wanneer ons swak is. God laat swakheid in ons lewens toe sodat ons ‘n ontmoeting met genade kan hê. Hoe sal ons ooit weet dat ons iemand sterker as onsself nodig het as ons self altyd in beheer is?
God laat swakheid toe sodat Hy Sy genade aan ons kan openbaar. Wanneer ons dan uitroep na Vader omdat ons nie meer self hierdie lewensreis se tree kan gee nie, tel Sy genade ons op en dra ons verder. Wanneer ons swak is, is Hy sterk. Wanneer ons nie meer kan loop nie, tel Hy ons op en dra ons verder.
Ons almal ken die bekende stuk oor “Voetspore”, dat daar waar net een ry spore is, is daar waar God jou en my gedra het. Ek het so idee dat as ek en jy sal terugkyk na ons lewensreis, daar op baie plekke net een ry spore in die sand sal wees.
Gebed:
Vader, dankie dat ek vandag besef dat U swakheid toelaat in my lewe sodat ek ‘n ontmoeting kan hê met genade. Dankie dat U genade vir my genoeg is en dat U my dra wanneer ek nie meer self kan loop nie. Amen.