Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy ‘n paar merkwaardige dinge gesê. Een daarvan was:
“Ek is dors”
(Johannes 19:28 DB)
Ek glo hierdie was nie net ‘n fisiese dors nie. Ons moet besef dat in hierdie oomblik al die sonde van die hele mensdom op Hom neergekom het, en dit het ‘n skeiding gebring tussen Vader en Seun. Daarom sê Jesus dan ook:
“My God, my God, waarom het U my verlaat?“
(Markus 15: 24 NLV)
Skeiding van God sal ons altyd geestelik dors laat. Baie van ons probeer hierdie dors les op so baie ander maniere, maar eindelik los hierdie wêreldse water ons net nog meer dors.
Jesus was dors sodat ek en jy nooit weer geestelik dors hoef te wees nie. Maar jy moet na Hom gaan om geestelik van Hom te “drink”.
“…Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê.”
(Johannes 7:37 DB)
Hy nooi jou uit om jou geestelik dors by Hom te les. Om by Sy voete te sit en van Sy geestelike water te drink. As jy hierdie uitnodiging aanvaar ontvang jy ook ‘n wonderlike belofte:
“Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.”
(Johannes 7:38 DB)
Mag jy vandag jou geestelike dors by Hom les en mag jy beleef hoe die water soos ‘n fontein uit jou borrel.
Gebed:
Here Jesus, vandag wil ek by U voete kom sit en van U drink deur U Woord en gebed. Mag U lewende water dan soos ‘n fontein opborrel na die mense om my.
Amen