Dag 10 

Wanneer jy val 

Psalm 37:23-24

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. 

Ons teksvers sê die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.  Tog lees ons net in die volgende vers dat hierdie mens, wat se koers deur die Here bepaal word, kan val. 

Ons weet uit ervaring dat selfs al loop jy ‘n naby pad met die Vader, dit soms gebeur dat jy oor jou eie voete struikel.  Dat die begeerlikhede van die wêreld soms ons aandag aftrek en ons in sonde laat val.  Dalk haal jy vir ‘n oomblik jou oog van die groter doel af en jy verloor jou balans of jy raak uit voeling met God se ritme.  Soms val ons bloot net omdat ons meer op mense vertrou as op God.  Die waarheid is dat ons almal met tye val. 

Die goeie nuus is dat jy nie hoef te bly lê nie.  Ons kan egter nie self opstaan uit ons sonde en ongehoorsaamheid nie, ons het ons Vader se hand nodig. 

Die Bybel sê in 1 Johannes 1:9 dat as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.  God kan en wil jou ophelp om weer die pad saam met Hom te loop. 

Miskien sê jy maar ek het al so baie keer geval, kan God nog lief wees vir my?  Wanneer ‘n baba leer loop en hy val, sal ‘n mamma of pappa met liefde daardie kind ophelp.  Spreuke 24:16 sê al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op. Wanneer ons Jesus aanneem as ons Verlosser ontvang ons die posisie van regverdigheid en moet ons deur ‘n proses van heiligheid gaan om te leer om ook hierdie regverdigheid uit te leef.  Soms in hierdie leerproses val ons nog, maar ons posisie van kind van God, maak dat Hy ons soos ‘n Vader sal ophelp.  Jy kan nooit bly lê as jy weet die Vader staan met oop arms voor jou nie. 

Die belangrikste is dat jy God se hand sal vat en weer sal opstaan en dat jy ook op Sy genade sal staatmaak om jou te help in jou swak areas, sodat val al minder sal deel wees van jou wandel saam met jou Vader. 

Gebed:

Dankie Vader dat U my nooit sal laat bly lê as ek val nie.  Dankie dat U my ophelp en my leer om deur U genade al minder te val. Amen.