Dag 1

Met een tree…

Jakobus 4:8
Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Liefde word gekweek in nabyheid.  As ek dus in ‘n dieper liefdesverhouding met my Vader wil hê, moet ek nader aan Hom beweeg.

Tog is dit soms moeilik om nader aan God te beweeg.  Miskien weet ons nie hoe nie, miskien is ons bang omdat ons skuldig voel oor dinge wat nie reg is in ons lewens nie. 

Ons moet egter weet dat daar ‘n God van liefde is wat wag dat ons die eerste tree sal neem.  Ongeag van ons vrese en verlede – Hy wag soos die pa van die verlore seun, en wanneer Hy sien dat ons die eerste tree gee, hardloop Hy ons tegemoet en omhels ons met Sy liefde.

‘n Eerste tree is om die Bybel oop te maak en Sy liefdesbrief aan jou te lees.  ‘n Eerste tree is ‘n gebed wat uitroep en sê: “Vader ek het U nodig!”  Een treetjie van geloof en Hy is by jou.  Met hierdie stap kan die liefdesband tussen Vader en dogter begin, en jy betree ‘n nuwe pad van liefde en nabyheid met die lewende God.

Wil jy nie vandag nader aan Hom beweeg nie?  Hy is net een tree weg van nabyheid.  Hy wag dat jy daardie besluit neem om nader te kom.  Vra die Heilige Gees om jou te help met elke vrees en die skuldgevoel van sonde.  Hy wag nie tot ons perfek is nie, Hy wag net dat ons nader kom. 

Jesaja 30:21 sê:
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”  Hy praat vandag met jou, Sy stem roep jou nader omdat Hy naby aan jou wil wees. 

Met een tree, kan jy ‘n naby verhouding met Hom begin!

Gebed:

Vader, vandag besef ek U wil naby aan my wees.  Ek hoor U stem en ek kies om daardie stap van geloof te neem en die eerste tree nader aan U te gee.  Baie dankie dat U nou naby my is.  Amen.