Dag 3

Galasiërs 5:25
Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.


Het jy al opgelet dat sekere mense vinniger stap as ander?  Dis veral opmerklik wanneer ‘n kind saam met ‘n volwassene stap – die arme kleintjie moet letterlik twee tree gee vir elke een tree wat die volwassene gee.  Ander mense stap weer so stadig dat dit ons soms frustreer.  Wanneer jy egter saam met ‘n vriend in gesprek stap, loop jy in pas saam met daardie persoon en geniet jy elke tree van die pad.

So wil die Gees ook in pas saam met ons wandel.  Die engelse Bybel stel Galasiërs 5:25 so mooi: Since we live by the Spirit, let us keep in step with the Spirit.” 

Om in pas saam met die Gees te loop beteken dat jy Sy ritme volg, dat jou lewenstree deur Hom bepaal word.

Johann Sebastian Bach – bekende komponis het so in ritme met die Gees getap.  Voordat hy begin werk het aan ‘n nuwe stuk en enigsins ‘n noot vasgevang het, het hy die letters “JJ” (Jesu Juva) klein aan die bokant van die papier neergeskryf – dit beteken Jesus help my.  Wanneer hy dan ‘n stuk klaar geskryf het, het hy aan die einde “SDG” (Soli Deo Gloria) geskryf, wat beteken aan God alleen die eer!

As ons in ritme met die Gees wil loop en toelaat dat die Gees ons gedrag moet bepaal, moet ons ook elke oggend ons wandel met ‘n “JJ” begin – Jesus help my.  En aan die einde van die dag, wanneer ons terugkyk na die die pad wat ons saam met Hom geloop het, sê ons “SDG” – aan God al die eer!

Wanneer jy jou dag begin met “Jesus help my”, kan jy verseker weet dat maak nie saak hoe vinnig of stadig die ritme van daardie dag gaan wees nie, jy sal kan byhou want Hy help jou met elke tree wat jy neem.

Wanneer jy dan die einde van die dag afsluit met “aan God al die eer” kry Hy al die eer vir elke tree van oorwining en sukses en erken jy dat Hy die Een is wat in beheer is van jou lewe.

Gebed:

Vader ek wil my wandelsreis in pas met U loop.  Sal U my help om te lewe deur die Gees dat eke tree U sal verheerlik.  Amen.