Psalms 143:8
Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

Nabyheid aan God is nie net ‘n eenmalige tree na Hom nie.  Om naby aan God te lewe is om daagliks die keuse te maak om ‘n tree van geloof in Sy rigting te neem. 

Wanneer ons dan elke dag kies om tot Hom te nader, wys Hy vir ons die pad wat ons moet loop.  Wanneer ons dan hierdie pad loop word elke tree ‘n wandelsreis saam met Hom.

Wanneer jy saam met iemand wandel ontwikkel daar ‘n verhouding, ‘n soort kameraderie wat kan ontwikkel in iets baie spesiaal.  Wanneer julle so saam deur die lewe stap, is daar nabyheid – julle gesels, luister, lag en deel hartsake.

Wanneer jy saam met jou Vader wandel is dit ook Sy begeerte om te gesels, luister, lag en hartsake te deel.  Dis nie net jy wat praat nie, Hy deel ook graag Sy hart met jou.  En so in die wandel, ontwikkel daar ‘n liefde en vertroue tussen jou en God wat geen mens van jou kan wegskeur nie.

Genesis 3:8 sê
God het in die tuin van Eden gewandel. Alhoewel dit nêrens in die Bybel staan nie, maak ons die afleiding dat voor die sondeval, God heel moontlik saam met Adam en Eva in die tuin gewandel het.  Drie vriende wat in die koel aandluggie saam die mooi van die tuin kon bewonder en kon gesels oor die dag. Ons weet egter dat sonde hierdie wandel gestuit het in sy spore, verhouding is verbreek en God en mens het nie meer hierdie besondere pad saam gestap nie.

Vader se begeerte om saam met die mens te wandel het egter nog nooit verdwyn nie, daarom het Jesus alleen die pad van leiding gestap om te betaal vir die sonde wat skeiding gebring het, sodat ek en jy weer saam met God kan wandel.

Mag jou een tree na God ontwikkel in ‘n wandelsreis waar jy elke dag opnuut Sy liefde sal beleef.

Gebed:

Vader, help my dat my eerste tree na U sal ontwikkel in ‘n wandelsreis van liefde, vertroue en hoop.  Amen.