Dag 4
Jesaja 41:13
Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.
Dit is vir my vreeslik mooi om te sien as twee jong verliefdes hand aan hand stap. Wat nog mooier is, is wanneer twee bejaarde mense hand aan hand stap, om na soveel jare van getroude lewe nog steeds mekaar te koester en dit vir die wêreld te wys deur hande te vat.
Om hande te vat terwyl jy stap, praat van ‘n meer intieme wandel. ‘n Nabyheid aan die persoon wat beteken dat daar meer is as net vriendskap. Dit laat my dink aan die dogtertjie en pappa wat oor ‘n brug moes loop. Die pa wou seker maak hulle kom veilig oor die brug, so hy het haar gevra om sy hand te vat sodat hulle oor die rivier kon kom. Haar reaksie: “Nee, pappa moet my hand vat!” Die pa het haar verseker dat dit presies dieselfde is. “Nee pappa, dis nie dieselfde nie, as ek pappa se hand vat en daar gebeur iets met my, is daar ‘n groot kans dat ek pappa se hand sal los, maar as pappa my hand vat en my vashou, weet ek dit maak nie saak wat gebeur nie, pappa nooit sal los nie.
Vra vandag vir Vader om jou hand te vat. Hy doen dit met die grootste liefde en deernis en verseker jou dat Hy nooit jou hand sal los nie! Inteendeel soos Hy jou hand vat sê Hy ook vir jou dat jy nie hoef bang te wees nie.
Maak nie saak waardeur jy moet gaan nie, as jou hand veilig in Sy hand is kan jy deur enige storm loop. Jesaja 43:2 sê vir ons dat ons wanneer ons deur die water sal moet gaan, deur die riviere en selfs deur die vuur, sal Hy ons daardeur help. Die rivier jou nie sal wegspoel nie en die vlamme jou nie sal skroei nie, want Hy is nie net by jou nie, Hy hou jou hand vas met elke tree, en al los jy, sal Hy nooit jou hand los nie!
Gebed:
Vader, hoe kosbaar is dit nie om te weet dat as U my hand gevat het, U nooit sal los nie. Daarom vra ek vandag, neem my hand en stap elke tree van my lewe saam met my. Amen.