Dag 5
Wanneer die wandel ‘n dans word
2 Sameul 6:14
Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans…
Paul Newell vertel dat hy in ‘n baie konserwatiewe huis groot geword het waar dans verbode was. Op sy wittebrood het hy vir die eerste keer gedans met sy vrou. Sy reaksie: “Dit was wondelik! Ek’t nie ‘n idee gehad wat ek doen nie, maar dit het nie saak gemaak nie. Die nabyheid, die intimiteit, die vertroue, konneksie en volle oorgawe was iets wat ek nog nooit in my hele lewe beleef het nie!”
Om saam met ‘n iemand te wandel is wonderlik, maar wanneer julle besluit om saam te dans is daar soveel meer genot en intimiteit. Alhoewel ons nie so fisies met die Vader kan dans nie is dit ‘n mooi beeld van hoe ons verhouding met God kan wees.
Ons teksvers sê wel dat Dawid met volle oorgawe voor die Here gedans het. Hierdie woord “voor” word in die Hebreeus beskryf as “aangesig”. Die dieper betekenis van hierdie teksvers kan dus wees dat Dawid van aangesig tot aangesig voor die Here gedans het. ‘n Mooi prentjie van ‘n God wat met volle oorgawe saam met Sy kind dans.
Jou Vader wil so van aangesig tot aangesig saam met jou dans. ‘n Intimieme verhouding waar jy saam met Hom op die ritme van die lewe kan dans in volle oorgawe. ‘n Verhouding waar jy so naby aan jou Skepper lewe dat jy Sy hartklop kan voel en jou oë net op Hom gerig is. Want wanneer jou oë net op Hom gerig is word jou aandag nie afgelei deur al die begeerlikhede van hierdie wêreld nie. Ander se opinies oor jou maak ook nie meer saak nie, want jy weet dat die Een in wie se oë jy kyk jou ten volle aanvaar en liefhet.
Gebed:
Vader, my begeerte is ‘n intieme verhouding met U. Help my om my lewe ‘n dans te maak wat ek van aangesig tot aangesig saam met U dans. Amen.