Dag 6
Laat Hy jou lei
Spreuke 3:5
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.
Ek onthou die eerste keer wat ek en my man saam gedans het. Ek is dankbaar dat hy skoene aan gehad het, want sy tone sou dit nie gemaak het nie. Ek het meer op sy tone getrap as wat ek op die grond getrap het. My probleem was dat ek meer gefokus was op die mense om ons, bang dat ons dalk in iemand sou vas dans. Ek moes leer om hom genoeg te vertrou om my in die regte rigting te lei en net die dans saam met hom te geniet.
Net so moet ek en jy leer om ons Vader genoeg te vertrou om ons in die regte rigting te lei. Die meeste mense wat al ‘n geruime tyd ‘n pad saam met God stap het ‘n begeerte om in ‘n dieper verhouding met Hom te gaan, die probleem is egter sodra ons van aangesig tot aangesig met Hom begin dans in ‘n dieper dimensie, ons die geneigdheid het om ons eie ritme en rigting te wil bepaal.
Jy kan nooit op jou eie insigte staatmaak om die rigting van jou lewe te bepaal nie. Jakobus 4:7 sê ons moet onsself onderwerp aan God – dit beteken ons moet ‘n keuse maak om onsself ten volle aan God oor te gee en Hom toe te laat om die leiding van ons lewens oor te neem. Dit vat nederigheid om hierdie keuse te maak, daarom sê vers 6 van Jakobus 4 Hy weerstaan die hoogmoedige, maar aan die nederige gee Hy genade. Hoogmoed wil sy eie pad kies, maar nederigheid onderwerp Hom aan die Meester se hand, want nederigheid weet dat hy niks kan doen sonder die Meester se leiding nie.
As ons in nederigheid en deur Sy genade onsself aan Hom onderwerp en Hom toelaat om ons te lei in hierdie intieme dans, begin die prentjie soveel sin maak. Dis eintlik onmoontlik vir my om die leiding te neem want my oë kan nie vorentoe sien nie, al wat ek sien is wat agter my lê. My Vader is die Een wat voor my kan sien die toekoms in. Hy weet presies waar om my te lei sodat ek nie sal vas dans in sonde of sal val in slaggate nie. Ek moet net my oë gerig hou op Hom en Hom genoeg vertrou om my te lei.
Gebed:
Vader, ek kan nie in die toekoms insien nie, help my om U leiding genoeg te vertrou omdat U presies weet in watter rigting ek moet gaan. Amen.