Dag 7 

Dit verander jou

Romeine 12:2

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander…  

 Wanneer twee mense dit geniet om saam te dans kan ‘n mens dit gewoonlik op hulle gesigte sien.  Dis asof twee mense soos een word en saam met die musiek smelt.  Dit verander nie net die twee wat dans nie, maar het ook ‘n effek op die toeskouers wat hulle met bewondering dophou.

 Wanneer jy werklik geleer het om saam met die Gees te vloei, om Sy leiding te volg, bring dit verandering binne-in jou.  Jy volg nie meer jou eie ritme of die ritme van die wêreld nie, maar lewe nou om Hom te volg.  Jy word al meer verander na die beeld van Christus.

 

Hierdie verandering is nie iets wat jy doen nie, God bring hierdie verandering binne-in jou deur Sy Gees.  2 Korinthiers 3 :18 sê “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

 Dit is die Here se doel met jou en my, om in hierdie lewenspad saam met Hom te loop en selfs saam in intimiteit te dans, en in die dans meer en meer te verander om soos Jesus te word.  Dan wil God hierdie wêreld verander deur jou en my omdat ons die beeld en heerlikheid van Christus uitstraal.   

 Mag ons een word saam met die Vader wanneer ons kies om hierdie lewensreis saam met Hom te dans.  Mag ons gesigte straal van Sy heerlikheid omdat ons besig is om te verander om meer en meer soos Jesus te word.

 Gebed

Vader, verander my om meer en meer soos Jesus te word en U heerlikheid uit te straal.  Laat U heerlikheid in my dan die wêreld om my ook verander.  Amen